top of page

Versterk u belastingvoordele met uittree-annuïteite en Belastingvrye Spaarplanne

Writer: Roelf BothaRoelf Botha

Updated: Feb 13

Met die einde van die belastingjaar in sig, is dit nou die ideale tyd om u finansiële strategie te hersien en te versterk. Indien u nog nie die maksimum bygedra het tot ‘n uittree-annuïteit nie, is daar tyd tot 20 Februarie om addisionele bydraes te maak en die gepaardgaande belastingsvoordele ten volle te benut.


Uittree-annuïteite bied ook verskeie ander voordele:


  • Daar is geen belasting op rente, dividende, of kapitaalwins solank as wat fondse belê is nie;

  • Dis verskans teen skuldeisers;

  • Dit bied die vryheid om enige tyd bydraes te staak indien dit nodig is, en later weer te hervat;

  • Dit het nie ‘n geagte boedelwaarde nie;

  • Dit kan direk begunstig word en hoef dus nie deur ‘n boedelberedderingsproses te gaan nie.

  • Die nuwe twee-pot-stelsel bied toegang tot die spaarkomponent van u uittree-annuïteit voor die ouderdom van 55. Neem asseblief kennis dat enige onttrekkings uit hierdie komponent inkomste-belasbaar sal wees, en dat dit slegs vir ernstige noodgevalle oorweeg moet word.


Indien u reeds deur middel van werknemersvoordele bydra tot aftrede, maar nie die maksimum van 27.5% bereik het nie, sal dit sinvol wees om ook in ‘n uittree-annuïteit te belê.


Terwyl belastingaftrekbare premies beperk is tot 27.5% van u belasbare inkomste per jaar, en tot ‘n maksimum van R350,000, beteken dit nie dat u nie meer as dit kan belê in 'n belastingjaar nie. Enige bydraes bo die beperking word oorgedra na die volgende belastingjaar en kan gebruik word vir belastingaftrekdoeleindes in daardie jaar.


Belastingvrye Spaarrekeninge bied ook ’n unieke geleentheid om u welvaart te laat groei terwyl u die belastingvoordele geniet. Bydraes tot ’n belastingvrye spaarrekening is nie belastingaftrekbaar nie, maar alle groei – of dit nou uit rente, dividende of kapitaalwins is – bly belastingvry. U kan tot R36,000 per jaar bydrae tot ’n belastingvrye spaarrekening, met ’n leeftydslimiet van R500,000. Dit kan ’n uitstekende aanvulling tot u aftreebeplanningstrategie wees.


Indien u addisionele bydraes tot u uittree-annuiteit wil maak of u belastingvrye spaarrekening wil aanvul tot die maksimum per jaar, kontak gerus u finansiële adviseur. Laat ons van hierdie geleentheid gebruik maak.


bottom of page